Ds Hettie Wessels - 10 April 2019
As mens jonger is, is daar ‘n klomp goed wat ‘n mens moet doen. Die lys van voorskrifte is baie lank. Die skool, jou ouers, die kerk en nog sommer baie ander. Dan voel mens ook nog daar is goed wat ‘n mens moet doen, hierdie is nie reëls wat iewers neergeskryf word nie, dit is ook nie afdwingbaar nie, maar jy kom dit maar na want jy wil inpas. Hierdie is goed soos wat jy aantrek, hoe jy jou hare dra, wat jy eet of nie eet nie, met wie jy meng, saam wie jy nie vir lewe of dood gesien mag word nie ens. Gaan gesels maar met ‘n jongmens, die lys is nogal lank. Hoe ouer jy word hoe makliker word dit. Die “moet-doen-goed” word heelwat minder. Veral die inpas-reëls. Dit is asof mens net ‘n ouderdom bereik waar jy voel: “as jy nie hou van my broek nie, kyk vir my hemp”. Dit maak die lewe vir seker minder ingewikkeld. Soms dink ek dit sou lekker wees om net weer bietjie tiener te kon wees, maar ek sien nie weer kans vir al die onsekerheid nie. Nee, die ouer ek is baie gelukkig om te MOET asemhaal. Die res is ‘n bysaak. Nou verkies ek om goed te doen wat vir my lekker is. My “lekker” bepaal ‘n groot deel van wat ek doen en nie doen nie. Ek sê altyd as my werk die dag nie meer lekker is nie, sal ek moet ophou, en iets nuuts soek om te doen.
Dit is soos om basaar te reël. Basaarkos is lekker, basaarkuier is lekker, basaarmense is lekker. Wat in die lewe kan dan nou lekkerder wees as om ‘n basaar te reël. Om vir ‘n paar weke lank te droom en te dink oor hoe mense die heel lekkerste fees kan hou, en hoe bak ek die perfekte pannekoek en hoe maak ek plek in my maag vir ‘n roosterkoek, boereworsrol, kerrie en rys, en ten minste ses pannekoeke. Lekker!
So kom ek tot die besef, as Sabbat hou nie vir my lekker gaan wees nie, gaan ek dit nie kan volhou nie.
Ek is terug na die Bybel en Genesis 1. Die skrywer beskryf die einde van die sesde dag as volg:
31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag. (Afrikaanse 1983)
31God het alles wat Hy gemaak het, goed bekyk en Hy was baie tevrede daarmee. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die sesde dag van die skepping. (Die Boodskap)
31God looked over everything he had made; it was so good, so very good! It was evening, it was morning - day six. (The Message)
“En dit was baie goed”. “Hy was tevrede daarmee”. “It was good, so very good!”
Dit klink mos nou lekker! God het hard gewerk en na ses dae het Hy na sy handewerk gekyk en dit geniet. Daarna het Hy gaan rus op die sewende dag. Ek besef net weer, ek mag maar baie hard werk, letterlik probeer om hemel en aarde te skuif én dit terdeë geniet. Dan kan ek rus. Rus omdat dit ‘n geskenk uit God se hand is. Soos om na ‘n lang dag ‘n lekker sterk koppie koffie of glas wyn te drink. Jy werk nie vir die koffie of die wyn nie. Dit is reeds daar, maar dit is net soveel lekkerder as jy lekker hard gewerk het.
Die rusdag in jou week, jou Sabbatstydjie, moet ook lekker wees. Jy moet goed doen wat jou tot rus laat kom. Wat vir jou siel goed en lekker is. Jy ken mos jouself. Daar is goed wat ander mense laat ontspan maar vir my is dit ‘n sneller vir ‘n hengse hoofpyn. Soos haarkappers en hare sny. Die meeste vrouens is mal daaroor. Ek stap met ‘n stywe nek, ‘n knop op my maag en definitief ʼn hoofpyn daar uit. Ek hou niks daarvan as mense aan my hare vat nie. Ek hou nie van stilsit en niks doen en niks dink nie. Ek is nou maar een maal nie so aanmekaar gesit nie. My rus gaan baie anders lyk as die mens langs my se rus. My besiger rus laat my ontspan, bring my by die Here uit. Help my fokus.
My vrae aan jou:
- Wat laat jou rus?
- Wat bring jou nader aan die Here?
- Wat is vir jou lekker?
As jy hierdie antwoorde het, en onthou nou rus moet jy rus want dit is ‘n “moet” van God, dan kan Sabbat ‘n gereelde instelling word wat heilig is voor God. Dan kan jy hard werk, jou werk geniet en jou Sabbat word jou lekkerste lekker saamwees met God.
Literatuur:
- Subversive Sabbath: The Surprising power of Rest in a Nonstop World.
By: Swoboda, A.J. - The Rest of God: Restoring Your Soul by Restoring Sabbath.
By: Mark Buchanan - Sabbath as resistance: Saying NO to the CULTURE OF NOW.
By:Walter Brueggeman - Rythms of Rest.
By: Shelly Miller - The Meal Jesus Gave us.
By NT Wright - Journeying through Lent with Matthew.
By Andrew D Rogness - Guerrillas of Grace: Prayers for the Battle.
By Ted Loder - Grounded: Finding God in the World.
By Diana Butler Bass