facebook ng

 

 

Ds Hettie Wessels – 14 Augustus 2019

Op skool het ons geleer dat ‘n werkwoord ‘n doenwoordjie is. ‘n Aksie. Later in teologie het ek geleer liefde is ‘n werkwoord. As tiener kom en gaan liefde soos hongerpyne en dit voel nou nie juis na werk nie. Midde ‘n familie, gesin en huwelik besef mens baie gou dat liefde vir seker ook aan gewerk moet word. ‘n Aksie. Vrede is ook so woord. Jesus sê aan sy dissipels dat Hy aan hulle vrede sal agterlaat, soos ‘n erflating. Maar aan vrede moet daar ook baie hard gewerk word. Dit weet ons baie goed hier aan die suidpunt van Afrika.

Die vrede in ons binneste het ook harde werk nodig. Ek moes vrede maak dat in ‘n seker fase van my lewe, my dag redelik suksesvol was as ek twee kinders betyds orals afgelaai het sonder dat een van ons beseer is. Op welke wyse ook al. Jy kan maar jou verbeelding gebruik. ‘n Paar jaar gelede sou alles in my in opstand gekom het oor so ‘n stelling. Ek moes vrede maak met die wete dat ek nie almal gelukkig kan maak nie. Ek is nie ‘n slab Lindt sjokolade nie. Dat nie almal altyd van my gaan hou nie. Dat sekere van my drome anders gerealiseer het as wat ek aanvanklik beplan het. Vriendskappe eindig soms nie omdat jy ophou omgee het nie, maar omdat die lewe gebeur. Ek het geleer dat geloof nie altyd genoeg is nie en dat God ook soms nee sê. ‘n Dag het toe jou werklikwaar net 24 uur en dit gaan nooit meer word nie.

Ek moet vrede maak met wie ek is en wat ek ontvang het. Ek moet vrede maak met my omstandighede. Ek moet vrede maak met myself en ek moet vrede maak met God.

Met Jesus se geboorte kondig die engele die vrede af. As Jesus na sy opstanding aan die dissipels verskyn blaas Hy oor hulle en spreek vrede oor hulle uit. As die Gees in ons kom woon ontvang ons as deel van Sy vrug ook God se vrede. Vrede kom woon binne my en jou. Vrede is ook ‘n geskenk.

My kinders kry dikwels vir verjaardae of Kersfees sulke oulike kreatiewe speelgoed wat hulle self moet bou. Daardie speelgoed het my al dikwels laat wonder wie is hierdie kinders wat tussen drie en vyf jaar die kontrapsie aan mekaar kan kry sonder dat daar spaar parte oral rondlê? Na ‘n hengse gesukkel en vreemde tale lyk die “oulike speelgoed” dikwels nie soos die prentjie op die boks nie, en nie ek of my kind glimlag so liefdevol soos die oulike boks-gesinnetjie nie. Soms voel vrede vir my na so ʼn geskenk. Hoe op dees aarde sit jy dit aanmekaar? Hoekom voel dit so dikwels of die wiele van dit wat ek bou nie tot môre nog gaan bly sit nie. Het ek dalk iewers nie die regte stappe gevolg nie?

Paulus leer ons in Filippense 4:8 dat God se vrede alle verstand te bowe laat gaan. Daardie vrede hou oor ons die wag. Ek beleef soms dat as ek by God wag, daardie vrede wat ook ver bo my verstand is in my hart kom lê. En dan voel dit soos die kere wat ons daardie geskenk perfek laat staan sonder ‘n wobble en ek weet die vrede van God gebeur nie buite my nie, maar binne my.

Mag jy in die wete rus dat God se vrede binne jou bly.

kalenderkontak