jozifacebooktwitterd6

Verskilmakers logo klein

My dogter kom in trane van haar werk as kinderterapeut by die huis aan. Een van die gestremde kinders wat sy begelei, se pappie is voor die gesin vermoor. En boonop vertel kollegas van drie kindertjies wat met brandwonde in die hospitaal opgeneem is. Slagoffers van xenofobiese geweld. Sy is ontroosbaar.

Ek werk aan ’n preek oor Jesus se wonders en dink by myself: Watter soort wonderwerk het Suid-Afrika nou nodig? Sal ’n dramatiese genesing help? Sal dit help as iemand tussen ’n histeriese skare instap, ’n paar blikkies kos uit ’n verlate winkeltjie van ’n Somaliër neem en duisende mense kos gee? Of is ons land dalk by ’n punt waar wonderwerke nie meer gaan help nie, waar ons selfs nie meer na Jesus van Nasaret luister nie? Dalk moet een van die slagoffers uit die dood opgewek word?

Die probleem is boonop dat ons gereformeerdes nie erg het aan wonderwerke nie. Mense moet na profeet Josua in Lagos vlieg as hulle ’n wonderwerk wil sien.

Kort ons nie meer kragtige wonderwerke nie? In die populêre kultuur is daar ’n oorvloed flieks van superhelde wat tog daarin slaag om stede en bevolkings te red as dinge skeefloop. Batman vlieg saans rond en sien rampokkers reg. Spiderman spin die skelms toe en lewer hulle aan die gereg uit. Dit sal nie help om die X-men in te roep nie, want in Suid-Afrika sal so ’n klomp “anderste” mense aangesien word as buitelanders en moet vlug voor ’n skare wat alle vreemdelinge haat.

Baie van die wêreld se briljante denkers en groot kunstenaars is skepties oor wonderwerke. Thomas Jefferson het in 1804 ’n skeermeslemmetjie geneem en al die wonderwerke uit die Bybel gesny. Hy was ’n kind van die modernisme en sinies oor enigiets wat nie rasioneel verklaar kan word nie.

Kunstenaars waarsku uit ’n ander hoek. As jy wonderwerke nodig het, maak jy onbeheerbare kragte los. Die poorte van die hemel sluit ook die hekke van die hel oop.

Shakespeare se The Tempest is ’n waarskuwing om weg te bly van wonders. Prospero gee aan die einde sy mag prys om eerder die pad van menslikheid en liefde te loop.

JK Rowling herinner ons – hoe sterker Harry Potter se magiese kragte word, hoe sterker word die bose Voldemort. Uiteindelik gee Harry die “Elder wand”, die simbool van wondermag, weg en plaas dit in Dumbledore se grafkelder. Die finale toneel wys hoe Harry Voldemort oorwin, maar eintlik is dit Voldemort se eie bose spreuk wat sy einde veroorsaak.

In die Batman-films ontdek Gotham City dat hulle al hoe meer afhanklik raak van Bruce Wayne se superkragte, maar dan word die bose ook al hoe sterker. In die slot van The dark knight rises, doen Wayne afstand van sy mag en word ’n gewone mens.

Kester Brewin skryf in sy boek After magic dat die kunstenaars ons help verstaan die grootste heldedaad is om afstand te doen van jou kinderdroom om ’n held te wees, en doodgewoon mens te wees.

Die storielyn van die groot kunstenaars en fliekmakers is natuurlik die storielyn van Jesus van Nasaret. Jesus doen wonders en wys daardeur dat die Koning tussen mense kom woon het. Hemel en aarde kom nou op dieselfde plek en tyd by mekaar uit. Water word wyn, vyf brode en twee visse voed ’n skare mense, en die graf word van ’n dooie beroof as Lasarus opgewek word.

Hoe nader die kruis kom, hoe meer doen Jesus afstand van sy mag. Hy kan duisende engele oproep om te keer dat Hy nie gevange geneem word nie. Hy kan met ’n wonder van die kruis af kom.

Die gebed in Getsemane is ’n draaipunt. Jesus kies die pad van liefde en opoffering. Hy gee die krag van wonderwerke prys. Hy verander water in wyn, maar by die laaste maaltyd lig Hy die beker wyn op en verander dit in ’n bodemlose beker genade.

Wonders kan baie dinge doen, maar dit kan nie versoening bring nie. Prospero moes wonders prysgee om versoening te bewerk. Selfs God gee mag en wonders prys. In die heel grootste offer gee Jesus sy goddelike mag prys, word mens en sterf aan die kruis. Dit is immers vir mense en tussen mense dat Hy versoening bring.

Na sy dood en opstanding is Jesus steeds teenwoordig, maar dan is die kerk sy liggaam. Die kerk word hier en nou die liggaam van Christus en leef vir alles waarvoor die Seun van die mens gestaan het: regverdigheid teenoor die armes, aanvaarding van vreemdelinge, liefde vir randfigure, gedeelde maaltye en vryheid vir onderdruktes.

Ons hoef nie na profeet Josua te vlieg of mag oor mense te probeer kry met allerhande genesingsdienste en liggewig wonders nie. Die ware wonderwerk is wanneer ons in ’n land waar pa’s voor kinders geskiet word, en waar vreemdelinge weggejaag word, God se sagte, liefdevolle teenwoordigheid word.

Wanneer ons nie ons standbeelde vernietig of verdedig nie, maar eerder die beeld van God in ander mense met alles wat ons het verdedig. Die wonderwerk wat Suid-Afrika nodig het, is dat ????

Artikel geneem uit die Kerkbode van 1 Mei 2015

kalenderkontak