facebook ng

Ds Hettie Wessels - 31 Julie 2019

Wat maak jou gelukkig? Regtig sielsgelukkig? Wat is vir jou lekker om te doen? Geen moeite nie? Wat laat jou salig voel? So asof jy bederf is en kans sien vir môre? Wat laat jou vergeet van jou bekommernisse en dinge?

Sien, iemand vra my: Hoe rus jy? Eintlik begin dit so. ‘n Vriendin sê sy weet nie hoe ek dit regkry om alles bymekaar te hou nie. My antwoord: “Ek glo in ‘n goeie ritme”. Wat bedoel jy, vra sy. En daar is my kans! Ek rus daagliks en weekliks antwoord ek. En toe die vraag: Hoe rus jy, wat doen jy?

Die hele idee om op reis te gaan na ritme en rus is om regtig op ‘n daaglikse en weeklikse manier te lewe wat rustye inbou in ‘n “oorbesige” skedule. Hoe beter ek raak met die ritme hoe meer kan ek doen en hoe minder is ek moeg en kwaai.

Wat beteken dit vir my prakties?

  • Daar is ‘n afsnytyd in die aand vir rekenaar en selfoon. Ek staan op van my rekenaar en ek draai my selfoon om. Ek Facebook nie, ek Instagram nie, ek bel of sms nie. (As ek aan diens is antwoord ek werk). Ek voel ryk as ek my selfoon neersit en wegstap en ek weet nou kan ek net praat met mense terwyl ek hulle in die oë kyk.
  • Soms lê ek letterlik vir 15 minute op my rug op my bed. Ek staar na die dak. En soos wat my bekommernisse my besoek gee ek hulle vir die Here.
  • Soms luister ek na ‘n stuk klasieke musiek. Ek verlekker my in die ritmes en die talent.
  • Ek en die kinders gaan stap om die blok of ons speel krieket op die gras, of pop in die pophuis. Kinders nooi jou na hulle wêreld van kommerloosheid en lekker lag, jy moet net saamgaan.
  • Elke aand lees ons saam stories en ons maak byklanke en ekstra stemme. Dan lees ons saam Bybel en bid. Ononderhandelbaar. Die wêreld kan vergaan, ons lees stories. Hierdie kosbare kuier gaan nie altyd hou nie, die kinders word groter maar vir nou is dit fantasties.
  • Andere kere tap ek vir my badwater in en lê in die bad en rus. Niks kom by lekker bad in borrels en warm water nie. Ek voel soos Cleopatra!
  • Ek doen goed totaal en al buite my normale werk, ek doen naaldwerk of probeer ‘n nuwe resep. Die uitdaging en soms gesukkel laat my vergeet van hartseer en siek en kommer en preek en die lewe. En dit is lekker om iets vas te hou of te eet wat gewerk het.
  • Een maal ‘n week kuier ek saam met hartsvriendinne oor ‘n koppie koffie. Ek vertrou hulle met my lewe en my hart. Ons lag en huil saam. Ons vier die lewe.
  • Ek vryf silwer teepotte blink met Silvo… die blink word van die metaal onder die lap laat my voel of alles wat aangeslaan en oud lyk nuwe lewe voor gegee kan word.
  • Ek skryf gebede uit. Dit rig my gedagtes en dit help my om dankie te sê vir elke antwoord wat ek kry. Soms vergeet ek hoe baie genade ek regtig ontvang.
  • Ek en my man het ‘n staande afspraak. Elke week op dieselfde tyd. Gedagboek. Natuurlik is alle ander kuier ‘n bonus, maar hierdie tyd is ons s’n.
  • En alhoewel Sondae werk dag is, is die res van die dag familie tyd. Ons reël niks anders vir Sondag nie. Ons sê ja vir niks nie. Ons kuier as gesin.
  • Vir my is dit lekker as ek ‘n langer tydjie het om te gaan sit en ‘n hele boek in die Bybel te lees. Sommer so in een sitting. Die hele Amos of Lukas.

Die lewe bestaan nie net uit lekker en maklik nie, maar definitief ook nie net uit swaar en moeilik nie. Ons kies wat ons wil raaksien. En ek en jy sê ja en nee vir elke taak in ons dag. Ek hoor nou die dag oor die radio dat elke mens daagliks 3 000 besluite neem. Jy besluit self. Soms is dit nodig dat jy ‘n besluit neem wat goed is vir jou, net vir jou. Want as jy na jouself kyk, kan jy ook na almal om jou omsien. Elke keer as ek wil skuldig voel dink ek aan die lugwaardin op die vliegtuig… eers jou eie masker voor jy ander help met hulle s’n!

kalenderkontak