facebook ng

Ds Hettie Wessels - 23 Julie 2019

Dit het my baie lank geneem, maar ek het uiteindelik geleer dat die gewone beter as goed is.

Uiteet by ‘n grand restaurant is lekker, maar dit is die elke dag se saam eet met my gesin om ‘n tafel waar sterk bande gesmee word.  Kiwi vrugte of duur kersies is eksoties per geleentheid maar ‘n appel wat jy enige dag van die jaar by enige kafee kan koop, hou die dokter op wag. Croissant en muffins is hemels maar dit is regerings-brood toebroodjies wat jou huis toe laat verlang.  Want ‘n toebroodjie proe soos ma se sorg, en dit proe soos langpad ry, dit proe soos lang pouse by die skool en saam met my maat proe dit soos nagmaal.  Dit is bekend lekker en dit maak jou maag vol. Earl Grey tee uit fyn Royal Albert koppies laat my spesiaal voel maar ‘n beker koffie langs die kombuis tafel laat my toe om hartsdinge te deel met my pêl. ‘n Aandrok verander enige Aspoestertjie in ‘n prinses vir ‘n aand, tekkies en jeans pas om my lyf en laat my toe om sommer net ekke te wees.  Soms doen dit jou ego goed om uitgenooi te word na ‘n “fancy party” met geleerde en belangrike mense, kuier saam met familie en lankal se vriende gee vir jou staan plek in die lewe en harte van regte egte mense.  Mooi dek, met jou beste borde en lap servette leer jou kinders om enige plek te kan inpas, maar niks kom by krummelpap en skaaptjops langs ‘n braaivleis vuur nie. 

Dit is in die elke dag se gewone dinge waar mens waarlik mens is. En waar jy jou eerlike self is.  Daar kan mens niks wegsteek of voorgee nie, want die elke dag lewe vang jou uit.  Aansit en voorgee pootjie jou, want mens kan net so lank iets anders probeer wees.

Romeine 12 vertaal Eugene Peterson in die Message so:

 1-2 So here’s what I want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life - your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life- and place it before God as an offering.

Sien, vakansies by die see laat jou ontspan en vergeet. Maar dit is die goeie gewoonte van ‘n weeklikse Sabbatsrus wat jou siel gesond hou.  Dit is die goeie ritme van elke dag stil word en regtig uitkom by God wat jou geloof laat groei. 

Die buitengewone is fantasties maar die daaglikse gewone is beter. Wanneer ons geleer het om ons elke dag, gewone lewe van slaap en eet en werk te leef asof vir God, dan het ons die kuns van die lewe ontdek.

My gebed vir jou is dat jy in die dood gewone van elke dag sal leer om God raak te sien. Dat jy nie sal soek na God nie, maar dat jy sal besef Hy is teenwoordig hier en nou.  Altyd.  En dat jy in jou “everyday, ordinary life” met God sal leef.  AMEN

kalenderkontak