facebook ng

Ds Hettie Wessels - 17 Julie 2019

Iewers vra iemand vir my: “Jy skryf nou baie oor rus, so wat leer jy?”

Ek dink die reis van vier maande se grootste les was dat mense saak maak. In Johannesburg is daar baie, baie, baie, baie, baie mense.  En geen maar geen mens mag ooit vir jou maar net nog iemand word nie.  Ons het geleer om deur mense te kyk, om mense, weg van mense, ons is goed daarmee om mense mis te kyk.  En mense word net nog ‘n gebruiksartikel.  As ek jou nie meer nodig het nie, vergeet ek jou naam en beweeg na die volgende mens.  Dis nou as ek in die eerste plek die moeite gedoen het om jou naam te leer.

God laat ons rus, want mense is belangrik. Mense moet rus en mense moet laat rus.  Want ons is slim en ons kan tyd bestuur en ons kan ingeligte besluite maak.  Daarom kry ons ‘n opdrag om te rus en te laat rus.

Wanneer ons rus raak ons rustig. Wanneer ons tyd maak sien ons mense raak.  Wanneer ons mense raaksien hoor ons hulle stories.  En mense se stories raak ons harte.  Want in elke storie is genade.  En dan weet ons elke mens maak saak.  Pat Keifert leer nou die dag vir die Kerkraad van NG Weltevreden as jy na mense kan luister, regtig luister en toelaat dat hulle net kan wees, as jy die kuns van luister bemeester, ontmoet jy die Heilige Gees in elke gesprek.

In Genesis 15 gee Abraham vir drie manne kos, en later ontdek hy, hy het God onthaal. Jesus sê as jy dit vir die geringste gedoen het, het jy dit vir My gedoen.  Jesus stop by die vrou by die put, hy neem die seuntjie se brood en vissies, Hy eet by die tollenaar en laat die los vrou sy voete salf.  Want in elke mens is ‘n storie opgesluit, en as ek en jy leer om te luister kry ons die voorreg om daardie storie te hoor.  Ontmoet ons God en leer ken ons sy genade.

Hier is die waarheid, as ek nie met ‘n gesonde ritme leef nie – ‘n ritme van werk en rus nie. As daar nie balans is nie.  Dan sien ek nie mense regtig, regtig raak nie.  Ek groet bolangs en luister gou.  Ek hoor ‘n bietjie.  Ek hoor nie eers myself nie. 

Ek lees hierdie raak…

I look around and see so much fear, people getting more and more comfortable with their hate, more at ease being mean, more united in their separation. And I think. NO. Not me.  I will not get lost in this fearful world.  I will not play with bullies.  I will continue to be brave and kind.  I will speak for real unity.  And no matter what, I will never stop loving. - Scott Stabile

 

Die grootse gebod is jy moet God liefhê en jouself en jou naaste. Vir wie en wat ons regtig liefhet maak ons tyd.

Wat het jy lief?

Waarvoor maak jy tyd?

En waarmee het jy gemaklik geraak?

Wat is jou storie?

kalenderkontak