facebook ng

Ds Hettie Wessels, 12 Julie 2019

Sabbath is not simply the pause that refreshes. It is the pause that transforms. - Walter Bruggeman

Die gejaag het so pas weer begin. Dinsdagoggend het my wekker af gegaan en ek het onmiddellik in roetine-mode ingegaan.  Opstaan, stort, aantrek, kinders wakker maak, hare droogblaas, kinders aanjaag, kos, kinders skool toe jaag, vergadering, kos koop, skool toe… alles op ‘n snelle tempo.  Asof iets my agtervolg…

In ‘n stokou boek wat ek by ‘n ou Tannie op Vaalwater gekry het lank gelede, haar pa was ‘n dominee en het die boek gebruik, skryf hulle: Die moderne lewe kan beskryf word met drie woorde “hurry; worry and burry” dit is in 1959… dit is 60 jaar gelede.

Is ons regtig besiger in 2019? Kry ons meer gedoen?  ‘n Studie in Amerika bewys dat ons nie langer ure werk nie. (Ek was ook geskok!)  Nou hoekom is ons dan so besig?  Ons het immers allerhande masjiene wat vir ons tyd moet terug gee: skottelgoedwasmasjien; mikrogolf; rekenaar; vinnige karre; epos; Watsapp en elektriese strykysters.

Daar is redes hoekom ons dink ons is so vreeslik besig…

  1. Besig wees, is ‘n nuwe status simbool. Dit wys ek is belangrik en het waarde en gee aan my eie waarde. Ek doen dan iets.
  2. Besig wees gee werk sekuriteit. As ek besig lyk dink mense ek is besig al is ek besig om uit te stel.
  3. Besig wees as FOMO (fear of missing out)!
  4. Besig wees, is ‘n by-produk van ons digitale era. Die lyne tussen werk en speel verdwyn met slimfone.
  5. Besig wees, is ‘n tydvuller. As daar ʼn paar minute oop is, kan ek dit aanlyn vul.

Wat wil dit vir jou sê. Die lewe gaan nie verander nie.  Jy moet verander.  Jy moet beter keuses maak.  Toe God duisende jare gelede vir die mens die opdrag gegee het om te rus, was dit omdat mense nie gerus het nie.  Eeue later en ons rus nog steeds nie.  Die opdrag bly dieselfde.  Jy moet tyd maak.  Daar gaan nie wonderbaarlik ‘n dag aanbreek wat jy ewe skielik tyd het en jy weet nie wat om daarmee te doen nie.

My ingesteldheid teenoor my week het verander. Ek weet daar moet tyd ingebou word om aktief by God uit te kom. Om aktief af te skakel.  Dit beteken ook ek moet my rekenaar af skakel.  Ek moet my foon afskakel, en ek moet die TV afskakel.  En seker die moeilikste my bekommernisse en beplannings moet ook afgeskakel word.

En ek moet aanskakel. Ek moet my sensoriese gewaarwordinge aanskakel.  My oë wat kan sien en my ore wat kan hoor.  Die natuur is nie net mooi tydens vakansie nie, in Johannesburg op ‘n Woensdag in die kwartaal sing die voëls ook, die son gaan steeds mooi onder en skoenlappers vlieg steeds van blom tot blom.  My kinders het steeds lang stories om te vertel en gee steeds vet drukke en taai soene.  Manlief maak steeds vir my ekstra sterk koffie en bring vir my water vir die nag.  Pa en ma verlang steeds en wag vir my oproep.  God gaan nêrens nie nooit nie.  Hy is hier by my, is net makliker om sy stem te hoor as ek tot ruste kom. So gesels terwyl ek draf werk vir ‘n rukkie, maar diep gesels, hartsgesels, uit my maag uit lag gesels kom as ek besig wees afskakel en my hier wees aanskakel.

Moenie verval in die besig wees mite van ons tyd nie. Dit is nie ‘n status simbool nie.  Net slawe se waarde word gemeet aan hoe baie hulle produseer.  Jy word nie besit deur jou werk, of jou kind se skool of die gym of die winkelsentrum nie.  Jy is geskep en behoort aan die God wat rus gee, wat sê jou waarde hang nie af van wat jy besit of wat jy doen nie.  Hy is net vir jou lief omdat jy, jy is.

Rus in God moet jou transformeer. Jy moet anders lyk as al die ander besige mense om jou.  Jy het tyd… baaaaie tyd… vir ewig.

kalenderkontak