facebook ng

Ds Hettie Wessels – 4 Julie 2019

Ek is die laaste twee weke met ‘n klomp emosies gekonfronteer. Eerstens het ons as gesin gaan kuier by my broers in Botswana. Dit is ver en dit is baie afgeleë. Hulle is wel regtig gelukkig, hulle het alles wat hulle harte begeer. En daar kom die vraag…. wat het mens nodig om gelukkig te wees? Wanneer is dit genoeg? Genoeg mooi? Genoeg klere? Genoeg huis? Genoeg kar? Genoeg goed?

In die vorige blog het ek gewonder oor genoeg voel in jouself en met jouself. En nou dink ek klomp van die dryf na nog en nog en nog is omdat ons sukkel met tevrede wees met wat ons het. En ek dink nie dit is omdat ons slegte mense is nie, of omdat ons noodwendig wêrelds is nie. Ek dink net ons leef in ‘n kultuur en in plek waar daar altyd nog beskikbaar is. Sien, in die Kalahari as jy nog wil hê moet jy baie ver ry en baie, baie, baie moeite doen om nog in die hande te kry. En dan kry jy dit dikwels steeds nie. Daarom koop hulle nie nog handdoeke of tafeldoeke of gordyne of strooikussings of klere of matjies of spieëls of potjies of lappies of, of, of nie, want daar is nie en hulle is gelukkig, regtig gelukkig!

Ons aan die ander kant loop om elke hoek vas in nog en nog en nog. Alles is mooi, en dié seisoen is ‘n ander kleur in die mode en nuwe kussings sal die plek net meer lewe gee of wat ook al. Ons word gekonfronteer met alles wat ons nie het nie. In die Kalahari is jy tevrede en dankbaar omdat jy het. En omdat jy nie met nog gekonfronteer word nie, of jouself met die “Jones” langsaan kan vergelyk nie (hulle bly immers 100km sandpad ver) word ander dinge belangrik. Mense word belangrik. Mense ry baie kilometers oor baie lelike paaie om te gaan kuier. Mense is regtig goed vir mekaar, want hulle het mekaar nodig.

Tweedens het ek verlede week twee begrafnisse gedoen. En so tussen die seer en die rou deur besef ek dat wanneer mens afskeid neem van iemand in hierdie lewe, maak nog minder as niks saak nie. Dan tel net die “nog” van ons verhoudings. Die diepte van ons liefde, die ver van ons omgee en die sagtheid van ons daarwees.

Ons rus nie, ons kom nie by ons mense uit nie, en praat nie met God nie want ons het nie tyd nie. Ons het nie tyd nie want ons werk, werk, werk sodat ons nog kan hê. Nog wat ons nie nodig het nie. Nog wat mooi is, maar geen verskil maak aan die groet van ‘n geliefde nie.

En so begin ek die kwartaal met ‘n les uit die Kalahari. Nog is nooit genoeg as dit kom by liefde en verhoudings nie. Nog omgee, nog vergewe, nog liefhê daarvoor is daar altyd tyd. Maar nog goed, al is dit hoe mooi steel my genoeg!

En nou:

geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.

En die grootste hiervan is

die liefde!

 

GOD

kalenderkontak