facebook ng

Ds Hettie Wessels – 14 Junie 2019

37Jesus antwoord hom: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” Matteus 22

Glo jy, dat jy genoeg is? Eintlik sou ek die blog net hier wou stop! Glo jy, jy is genoeg?

Genoeg ma? Genoeg man? Genoeg lid van die gemeenskap? Genoeg Christen? Genoeg lief? Genoeg lag? Genoeg geliefd? Genoeg mooi? Genoeg versorg? Genoeg mens? En so kan ek aangaan en aangaan. Sien, dit is moeilik om te glo dat jy moet rus en jouself versorg as jy oor jouself dink as nie genoeg nie. As jy in jou eie oë net nooit goed genoeg is nie.

Daar het ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan met die ouer word van my kinders. Ewe skielik bevind ek my op ‘n pawiljoen tussen klomp ouers wat wag vir krieketbuddies, of tussen ma’s voor die balletstudio, op ‘n stoel in die dojo wagtende vir karate kinders of sommer net skuins voor een voor die skoolhek. Mense kloek saam hulle mense, ander staan eenkant arms gevou, ma’s wat hierdie al jare doen staan land en sand en gesels oor alles en nog wat. Ek in my introvert-lyf beluister almal so van ‘n entjie af as ek nie dadelik iemand opmerk wie ek goed ken nie.

En dit is wat ek hoor: meeste mense, van alle groepe en kulture, lief hulle naaste (of so wil dit voorkom), maar as dit kom by selfliefde dan sukkel die mensdom. Ons praat nie mooi van onsself nie. Ons kla omdat ons slegte ouers is. Ons kla oor ons gewig. Ons kla omdat ons te kwaai is of te lelik. Bitter min kan ‘n kompliment met grasie ontvang, ons praat dit weg en waai verskrik met ons hande. Mense deel graag komplimente uit, ons sê mooi goed van mekaar en mooi goed vir mekaar. Maar ons praat lelik van onsself.

Jesus is baie duidelik jy moet jou naaste liefhê soos jouself, en meeste van die kere lê die probleem nie by die naaste nie maar by die “jouself”. Nou wonder ek, as ek nie myself kan liefhê nie, my hele self met al my rolletjies en plooie en kwaai en lag en huil en grys hare nie, hoe diep is my liefde vir my naaste?

Is dit nie hoekom baklei uitspring met die eerste bietjie opdraande nie? Dalk omdat tevrede en genoeg nooit na myself verwys nie. Mens, jy is na God se beeld geskape. Jy is die tempel waarbinne Hy woon. Daar is niemand soos jy nie. Omdat ek myself so min liefhet en so lelik van myself praat spring die vernis vinnig af as my naaste verkeerd trap. As jy jouself begin liefkry met foute en tekortkomminge en besef hoe ver jy tekort skiet en steeds vir jouself lief is, dalk net dalk sal jou genade met jou naaste ook verder strek. As ek myself lief genoeg het om te sorg dat ek rus, dat my menswees in ritme met God kom, as ek nie oormoeg en oorwerk en oorspanne is nie, sal my naaste nie minder aan die kortste end trek nie? As ek my eie onvolmaaktheid lief kry, sal ek nie sagter wees met my naaste se foute nie? As ek sagter met myself is spoel my liefde nie oor na die stukkend van die ou langs my nie?

Dit is ‘n fyn balans. As ek myself meer lief het as my naaste raak ek arrogant en mislik. Die teenoorgestelde is ook waar as ek myself ag as nie genoeg nie en ek myself nie kan liefhê nie, sukkel ek, ek oor kompenseer en die liefde word dun gesmeer.

So die werk vir die week wat voorlê: gaan bekyk jou self, jou buite-self en jou binne-self en WEET jy is genoeg. Hou aan kyk tot jy lief raak. Kyk tot jy tevrede en genoeg deur God se oë sien. Leer om vir jouself lief te wees. So lief dat jy jouself versorg en oppas en aanvaar en laat rus. Gaan kyk dan met daardie liefde in jou oë na die mens wat jou pad kruis. Want jy is genoeg! En jou naaste ook!

kalenderkontak