facebook ng

Ds Hettie Wessels - 5 Junie 2019

Die winter begin nou al in die huis se hoeke wegkruip. Deur die dag jaag die son nog die koue eenkant toe, maar in die skadu hoekies het die koue kom nes skop vir die volgende paar maande.

Voor ‘n kaggel eet ek en twee vriendinne ‘n vinnige ontbyt voor die dag te wild raak en nog ‘n week vir altyd verby is. Ek kyk na die vlammetjies en voel die hitte op my rug as ek begin eet. Later in die kar ruik ek die kaggel aan my klere. Vies vir myself omdat ek so naby aan die vuur gesit het, nou gaan ek heeldag na rook stink. En dan saam met die rook reuk kom die onthou van familie kuiers om ‘n bosveldvuur, studente dae se kuiers met rooiwyn en slim stories.  Braaivleis, kaggel – en kuiervure se herinneringe laat my glimlag.

In ‘n brandende bos roep God vir Moses vir ‘n reuse taak. Dieselfde Moses en die slawe volk het later agter ‘n vuurkolom na vryheid getrek deur die woestyn. En wanneer God die tien gebooie vir die stout volk kom aflewer is daar ‘n groot rook wolk. Geskenke uit God se hart vir sy volk; ‘n leier, rigting vir hulle voete en rigting vir hulle harte.

En dan die grootste geskenk wat God ooit kon gee. Sy Gees wat binne my en jou kom woon, kom met vuur. Pinksterfees. Ek hoef nie meer te offer nie, ek hoef nie tempel of kerk toe te gaan om God te ontmoet nie. Voor die kaggelvuur saam vriendinne vir ontbyt is God met my, is God binne my. Daar waar ek en my hartsmense kuier om ‘n braaivleisvuur is God nie afwesig of ver nie, God is binne in ons.

Ek ruik steeds die rook aan my klere as ek heelwat later by die huis stop. Ek oorweeg dit nie eers om ander klere te gaan aantrek nie.  Die rook herinner my aan hartskuiers en ‘n God wat onvoorwaardelik lief is vir my en wat sy heel grootste geskenk met vuur kom aflewer het.

kalenderkontak