facebook ng

Ds Hettie Wessels - 27 Mei 2019

In gesprek op pad na die motor na ‘n laataand vergadering raak en ‘n vriendin aan die gesels. Sy is bietjie voor my in die lewe wat betref kinders grootmaak en loopbaan mylpale. Iemand waarna ek graag luister. Lewenservaring en wysheid, ʼn “no nonsense” tipe mens. Ek hou van haar. So in die loop van die gesprek oor kinders, mans en werk sê sy: “ek voel oor niks skuldig nie, ek doen elke dag net my beste en die res moet maar gebeur”. Ek sê niks nie. Ek stuur die gesprek behendig in ‘n nuwe rigting. Ons gesels nog ‘n rukkie en dan klim elkeen in sy kar en ons ry na ons onderskeie huise.

In my eie kar draai dit deur my gedagtes “ek voel skuldig oor niks nie”. Ek voel skuldig - altyd en oor amper alles! My gedagtes gaan draai by gesprekke wat ek in die laaste paar dae met vriendinne gehad het. Die meeste van ons voel skuldig. Skuldig oor die stuk koek wat ons eet, skuldig oor ons nie genoeg oefen nie Skuldig oor ons kinders en skuldig oor ons werk. Skuldig oor ons mans en skuldig oor ons ouers. Skuldig oor die mooi skoene en skuldig oor die man by die verkeerslig. “Skuldig, U edelagbare! Skuldig!”

Hoekom?

Galasiërs 5:1 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.

Joh 10:10 Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Joh 8:36 Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.

2 Kor 3:17 “Die Here” beteken hier “die Gees” en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.

Op reis na ritme en rus beteken ek is op reis na ‘n intimiteit met God. ‘n Beter verstaan van wie God my gemaak het. Hoe God oor my voel as sy kind. Om God se stem beter te hoor. Dit is juis in die ritme van rustig word een maal ‘n week wat ek my geestelike naald instel om God se stem te hoor. God se stem sê: “Jy is vry!”

My meisiekind met Disney-drome in haar potblou oë kom nou die aand tranerig op my skoot sit. “Mamma, ek gaan nooit ‘n prinses wees nie”, huil kla sy. Jy is my en pappa se prinses sê ek. “Ek wil ‘n regte prinses wees” kom dit meer tranerig. Wie is die Koning van die hele wêreld vra ek. “God” antwoord sy. Wie se kind is jy vra ek. “Jou en pappa s’n”, en nou loop die trane! En wie s’n nog, vra ek kalm. “God s’n”, antwoord sy. So, jy is ‘n prinses! Die Koning van die heelal se dogtertjie is ‘n prinses sê ek. Sy kyk my ‘n oomblik stip aan en dan kom dit: “Ek wil ‘n Elsa-prinses wees”!

Ons ken al die antwoorde. Ons weet ons is vry, maar ons laat ons boelie deur die “Disney-droom-wêreld”. Ons laat ons boelie deur die onnodige skuld wat ons saamdra.

Kyk in die spieël. Skuif reg jou kroon of tiara en gaan leef jou lewe voluit. Eet die koek, oefen in die gym, drink die wyn, lees die boek, werk nog ‘n uur, soen jou man of vrou, lag saam met jou kinders. Leef! Die fliek prinses se lewe hou op as sy die prins ontmoet. My en jou lewe begin, vir ewig as ons die Prins van die Lewe ontmoet. Jy is God se kind en jy is vry!

kalenderkontak