facebook ng

Ds Hettie Wessels – 16 Mei 2019

Weet jy wat is nie ‘n skande nie? Antwoord: “Om te vra vir hulp” Ja, daar het jy dit nou. Die Bybel skryf baie kere van engele wat mense besoek het. Ek het nog altyd ‘n geheime vrees gehad dat een van hierdie weses my sal besoek. ‘n Gefladder van vlerke en helder ligte het my nog altyd laat koes. So in my stilligheid het ek altyd gewonder, as so ‘n engel aan my sou verskyn wat my reaksie sou wees. Ek skrik ook maklik. Mense moenie agter hoeke en draaie wegkruip en onverwags uitspring nie. Of skielike harde geluide laat my dinge doen waarvoor ek nie altyd verantwoordelik is nie. So ‘n engel wat verskyn en verdwyn is nie iets waarvoor ek nou noodwendig sal bid en vra nie. Ek word wel al hoe meer bewus van engele, elke liewe dag. Engele wat God stuur. Nee, daar is nie vlerke en helder ligte nie. Maar daar is liters sop, bakke vol brood, bestandele vir pannekoek en potte vol kerrie en rys, hulle het nie vlerke nie maar in hulle gewone mense hande hou hulle braaitange vas, of ‘n eierspaan, soms maak hulle net ‘n koppie koffie. Hierdie engele deel drukkies uit, hulle droog trane af en hulle nooi jou vir koek. Hulle kan skottelgoed was en jou kinders rondry. Soms luister hulle net na jou storie, ander kere bid hulle onophoudelik vir jou daar waar jy nie kan hoor nie.

Mense engele word almal moeg. Almal van hulle het ook ritme en rus nodig. Meeste werk te hard en slaap te min. Ek het wel geleer dat hierdie engel mense rus is. Mense wat opdaag en vir jou goed is. Mense wat onverwags en onverdiend net vir mens lief is.

God gee rus. God is ons skuilplek. God stuur ook mense engele op my en jou pad om ons te help en om vir ons rus te gee. My begeerte is om so rus-engel-mens vir mense te kan wees. As ons altyd besig is, en altyd te veel het om te doen maak ons nie net onsself moeg nie, ons maak ook mense om ons moeg. Kom ons raak rustig by God sodat ons die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan vir ander kan wees.

 

 

kalenderkontak