facebook ng

Ds Hettie Wessels - 8 Mei 2019

“Life gives you plenty of time to do whatever you want to do if you stay in the present moment.” -  Deepak Chopra

Ek begin so stadig maar seker ‘n paar lesse leer. As jy die dag besluit om die vierde gebod ernstig op te neem en tyd af te staan (eintlik is dit heeltemal verkeerd want net soos ons besitting en geld behoort al ons tyd ook aan God. Ek en jy besluit wat ons vir onsself terug hou, maar dit is wel ‘n “bedenking” vir ‘n ander dag.), tyd af te staan vir die rusdag, kry jy nie ewe skielik meer ure of minute wonderbaarlik in jou week by nie. Nee, dit beteken outomaties dat jy vir ‘n paar dinge gaan moet nee sê en sien, dit is waar die moeilikheid begin. Nee-sê bestaan nie in my woordeboek nie, en ek ken ’n klomp ander mense wat ook nog nie die woord nee ontdek het nie. Ek is nie een van die voorstaanders van nee-sê nie. Ook nie na my reis van 10 weke nie. As ek nee sê beteken dit iemand anders gaan moet ja sê of die saak of werk bly onafgehandel. Ek was al te veel kere aan die ontvang kant van ander ouens wat maklik nee sê. Die uiteinde was dat ek vir alles ja moes sê. Nou wat dan?

Wat ek dink oor die groot NEE is die volgende: Ek besluit dat wanneer ek ja sê vir iets of iemand, beteken dit dat ek ook ja vir myself moet sê. Is die ja goed vir my? Is dit goed vir my gesin? Is dit goed vir my werk? As my ja vir iemand anders ‘n nee vir myself beteken, wel dan moet ek nog ‘n keer dink. Partymaal, omdat ek nie nee kan sê nie, ly die goed wat regtig belangrik en noodsaaklik is daaronder. Ek is die heeltyd besig en skarrel van een plek na die volgende maar hou my nie noodwendig besig met goed waarmee ek moet nie. So wat voorlê is ‘n onderskeidingsproses. En tydsbestuur. Beplanning. En nee sê.

Lank gelede het ek ‘n afspraak gehad met ‘n baie belangrike dominee. Ek was baie jonk en was bitter gevlei dat hy bereid was om tyd af te staan om my te sien. Ek het die gesprek begin deur te sê hoe dankbaar ek was vir sy tyd en dat ek weet hy is baie besig en ek sal so gou as moontlik wees. Hy het agteroor in die stoel gesit en baie rustig gesê: “Hierdie is jou tyd, dit staan so in my dagboek. Vat jou tyd en gesels rustig.” Ek het dadelik op my gemak gevoel en meer nog, ek het belangrik gevoel. Glad nie soos die junior dominee wat pla nie. In my loopbaan het ek na hierdie afsprake baie ander gehad met meer en minder belangrike mense en gewoonlik is dit mense wat besef hoe kosbaar tyd is wat regtig opdaag en in die oomblik teenwoordig is. Mense wat ja gesê het en toe ja bedoel het. Ander kom laat, antwoord selfone, kyk op hulle horlosie of vertel vir jou hoe besig hulle is. Dit laat my gewoonlik voel of ek onwelkom is. Dit is mense wat ja gesê het maar nee bedoel het.

As ek ja sê wil ek ja sê met my tyd en my teenwoordigheid. As ek ja sê vir ‘n taak wil ek dit met ʼn 100% “ja” doen.

God sê “ja” vir ons. Só ja dat Hy binne in ons kom woon en elke dag die reis saam met ons aanpak. Ons moet net “ja” sê vir Hom en “ja” bedoel.

Literatuur:

  • Subversive Sabbath: The Surprising power of Rest in a Nonstop World by Swoboda, A.J.
  • The Rest of God: Restoring Your Soul by Restoring Sabbath by Mark Buchanan
  • Sabbath as resistance: Saying NO to the CULTURE OF NOW by Walter Brueggeman
  • Rythms of Rest by Shelly Miller
  • Guerrillas of Grace. Prayers for the Battle by Ted Loder
  • Grounded: Finding God in the World by Diana Butler Bass

 

kalenderkontak