facebook ng

Psalm 23

Die Here is my herder

1‘n PSALM van Dawid. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. 2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. 3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. 4Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. 5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. 6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Agt weke gelede het ek gesê: “Dit lyk vir my of mens klein moet begin. Versigtig moet trap, anders gaan jy te maklik opgee en maar net gou weer ‘n oproep maak of ‘n epos antwoord.”

Ek is ver van opgee af. Die waarde van ‘n goeie ritme en ‘n gereelde rus besef ek nou terdeë. Ek kry meer gedoen as ek meer gereeld tot ruste kom. Maar, die groot maar (ek weet mens begin nie ‘n sin met maar nie)! Maar die afgelope week het ek gruwelooslik gefaal. Ek bely dit openlik. Hierdie week het ek terug geval in my ou wee, die lekkerte van besig wees. Die adrenalien wat my dryf en aanpor. Jare gelede op skool het ‘n kind ‘n gedig opgesê van ‘n trein-enjintjie met die naam “Klein bietjie Niks”. Sy motivering was: “Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan!” Hierdie week was ek “Klein bietjie Niks”. Doodmoeg en gedaan sê ek vir myself: “ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan!” Die uiteinde is dat ek skaars met myself kan huis hou. Ja ek was woes effektief, en het ‘n magdom goed gedoen gekry, maar die prys was hoog. Eers toe die doodse moegheid my lyf tref, toe weet ek: “Jy het nie gerus nie. Jy het nie tyd gemaak vir stil word nie en nou is jy gedaan.”

Ek is so bietjie kwaad vir myself. Ek was tot nou so goed met die nuwe ritme. Tog is ek bly, want nou weet ek en beleef ek dat rus regtig ‘n verskil maak. Die geskenk van die Sabbat, die heilige geskenk afgesonder vir God, het onoopgemaak op die rak bly staan. En ek het uitgemis.

Dit koue het so sluip-sluip nader gekom en so dan en wan moet ons nou ‘n dikker baadjie aantrek. Nou die oggend begroet ‘n koue, nat herfs dag my. Ek grou ‘n baadjie agter uit die kas uit en trek dit aan. Toe ek later buite loop druk ek my koue hande in my sakke. ‘n R100 van laasjaar kruip in my baadjie sak weg. Jippiee! Dit is nou ‘n bonus! So in die koue het ek kontant geld vir koffie!

Toe ek weer onthou van rus, was dit soos die ontdekking van die geld in my sak. Dit was al die tyd daar!

Psalm 23 sê Dawid dat God hom by waters van rus bring. Ek het beleef dat daardie rus die dal van doodskaduwee hanteerbaar maak. Dat daardie rus die kos by die tafel lekkerder laat proe, en die groen weivelde groener maak.

Ek gaan hierdie week terug na my reis van ritme en rus. Ek gaan leer om nee te sê. Ek gaan toelaat dat God my by waters van rus bring. Want ek wil nie uitmis op my geskenk nie, en nog minder uitmis op die lewe.

Literatuur:

  • Subversive Sabbath: The Surprising power of Rest in a Nonstop World by Swoboda, A.J.
  • The Rest of God: Restoring Your Soul by Restoring Sabbath by Mark Buchanan
  • Sabbath as resistance: Saying NO to the CULTURE OF NOW by Walter Brueggeman
  • Rythms of Rest by Shelly Miller
  • Guerrillas of Grace. Prayers for the Battle by Ted Loder
  • Grounded: Finding God in the World by Diana Butler Bass

 

kalenderkontak