facebook ng

Ds Hettie Wessels - 18 April 2019

The “choice of gods” is, in context, a choice of restlessness or restfulness.

The reality of restlessness in our contemporary society is obvious and epidemic.

Walter Brueggeman

 

Wat my nogal onkant gevang het in my reis na rus is die verskonings wat ek uitdink. Meer nog die verskonings wat mense vir my gee oor hoekom hulle dink hierdie “ge-Sabbat” is eintlik ondoenbaar. Ek wonder of ons mekaar so tegemoetkomend sou wees as ons almal begin steel het: “ag weet jy, dit kan nou nie anders nie… die kalf is in die put” of mekaar doodgemaak het “dit sal weer makliker word, nou is net ‘n slegte tyd”. Dit is altyd vir my interessant oor hoe selektief ons met die waarheid kan omgaan. Hoe ek kies wat op my van toepassing is en wat nie. As iemand my op die skouer klop en sê: “Ek begeer jou man, kan ek hom maar kry?” sou ek regtig dink daar is iets fout met die vrou. Maar as iemand sê, ek werk onophoudelik, ek kom by niks en niemand uit nie, is dit asof daardie persoon se status verhoog. So iemand is verskriklik belangrik.

Mense laat jou baie goed verstaan dat hulle tyd baie, baie duur is. Niemand het tyd om te mors nie en ongelukkig word “rus” beskou as tyd mors. Terwyl ek rustig sit en musiek luister kon ek my kind gehelp het met wiskunde. Terwyl ek stil probeer raak en gefokus Bybel lees, kon ek al ‘n bondel wasgoed ingegooi het. Terwyl ek gesit en gebede neergeskryf het kon ek deur al my eposse deurgewerk het. Ek kon gaan inkopies doen het. Kosgemaak het. Gebel het wie ek moes gebel het. Gery het om iemand – gewoonlik ‘n kind – te gaan oplaai of aflaai het. Gehelp het met ‘n skooltaak. My ouers dr toe gevat het. ‘n Kliënt gaan sien het …. ens ens ens!

Die skrikwekkende is dat wanneer daar wel ‘n oomblik oop is wat ek niks het om te doen nie, is ek onmiddellik rusteloos en angstig. Wat het ek vergeet? Dit kan tog nie wees dat ek nou niks het om te doen nie. Dan dink ek dadelik iets uit om gou in die gaatjie in te pas. En vanaand, te laat, val ek doodmoeg op my bed neer. My kop draai nog om ‘n duisend en een dinge en môre oggend, heeltemal te vroeg, skrik ek wakker en begin dadelik teen 120km per uur.

Dit is die siekte van ons tyd. Ons jaag mekaar aan. Ons jaag ons kinders aan. Ons jaag ons bejaarde ouers aan. Ons is angstig besig. Epidemies siek.

Daar is nie tyd vir onsself nie en daar is nie tyd vir God nie en daar is nie tyd vir ons mense nie. Daar is net nooit tyd nie. Maar, en die groot MAAR is – ons voel die hele tyd skuldig. Ons smag na rustigheid in ons rusteloosheid.

Die fout wat ons maak is dat ons dink ‘n vakansie gaan dit oplos of beter maak. Vakansie werk net aan die simptome en het geen invloed op die siekte nie. Inteendeel, ons word sieker. Rustigheid moet van binne kom. Rustigheid kom met ‘n gesonde ritme en ingesteldheid. Rustigheid kom wanneer ek na myself begin omsien. Rustigheid kom met ‘n keuse en ‘n wilsbesluit. En baie genade.

Hoe ernstig neem ek God op?

God beveel ons om te rus. Moordenaars en diewe is slegte mense in ons oë, maar ons steel elke dag God se tyd. Moord is dalk bietjie dramaties maar ons verniel ons liggaam en menswees in so mate dat ons siek word. Ek begeer elke dag ‘n rustiger bestaan. Families breek op omdat ons bymekaar verby leef. Die Bybel sê ons kan net een God op ‘n slag aanbid. Brueggemann sê dit is ‘n keuse tussen gode.

Hoe ernstig neem ek God op?

My grootste vrees is dat ek rustelose, angstige kinders die wêreld gaan instuur. Elke generasie laat die volgende generasie met ‘n klomp bagasie agter. Of dit nou oorlog rommel, apartheid of plastiek is. Ek wonder of ons grootste erflating nie angs en woede is nie. Dalk omdat ons nie kies om tyd oordeelkundig te gebruik nie.

God gee rus. Hy nooi ons na “waters van rus”. God belowe dat Hy die geknakte riet nie sal afbreek nie. Hy gee vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy sorg beter vir ons as vir die voëls en die blomme. Daardie God leef in my en jou.

Mag die kruisiging en die opstanding jou tot ruste bring!

 

Literatuur:

  • Subversive Sabbath: The Surprising power of Rest in a Nonstop World by Swoboda, A.J.
  • The Rest of God: Restoring Your Soul by Restoring Sabbath by Mark Buchanan
  • Sabbath as resistance: Saying NO to the CULTURE OF NOW by Walter Brueggeman
  • Rythms of Rest by Shelly Miller
  • The Meal Jesus Gave us by NT Wright
  • Journeying through Lent with Matthew by Andrew D Rogness
  • Guerrillas of Grace. Prayers for the Battle by Ted Loder
  • Grounded: Finding God in the World by Diana Butler Bass

 

kalenderkontak