facebook ng

 

Ds Hettie Wessels - 3 April 2019

Die tyd loop katvoet
Die dag stap luiters verby soos ‘n kat,
stert omhoog. Laat my jou streel.
Spring nou op my skoot. Ek wil
jou iets vertel. Jy gaan my elke
dag verby en ek kyk jou agterna,
en roep, maar jy skuur jou wang
teen die verlede. Elke dag loop daar
‘n dag uit my lewe en gaan slaap
opgekrul en droom hom met bewende
snor binne-in my daaglikse handel.
Vorentoe, agtertoe loop die tyd
katvoet aan my verby, en spin.

Wilma Stockenstöm


Tyd. Soms wonder ek oor irrasionele goed soos waar kom tyd vandaan… ag ek ken die geskiedenis en horlosies en en en. Maar regtig… kon ons nie maar aanhou kyk het na die son en gewerk het met oggend, middag en aand nie? My oudste het geleer tyd lees op ‘n horlosie en asof daar nie genoeg druk is om orals altyd betyds te wees nie, kondig my seun nou onophoudelik die tyd aan. En ek bedoel soos in elke tweede minuut en as jy nie dadelik ‘n horlosie in die hande kry nie grou hy tot hy my selfoon kry om die knoppie te druk en siedaar… mamma dit is nou 09:34 en mamma dit is nou 09:35… mamma dit is nou… My jongste wat nog op oggend en middag en is dit al amper badtyd werk raak skoon senuweeagtig. Mamma is 9uur al middag? Nee dit is nog oggend, my kind. Maar is dit laat oggend mamma? Mamma dit is nou 09:54… kom dit van die oudste. Ek gryp die selfoon en gooi dit in my handsak. Gaan speel dit is nog baie vroeg, die dag is nog lank. Met die uitloop kyk my seun ‘n laaste keer na die tyd op die mikrogolf… mamma dit is nou... Baie onmoederlik boender ek hulle by die agter deur uit. Ek wil nie weet hoe laat dit nou is nie roep ek agter hulle aan. Hulle twee spring reeds sonder enige sorge op die trampolien rond, lag kliphard, die tyd vergete.

Ai, ek wens ek was nog ‘n kind. Ek wonder hoekom minute vir ons so belangrik geword het? Vir die Prediker is tyd ook belangrik, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om oorlog te maak en ‘n tyd vir vrede. Ek dink die minute tyd wat ons so aanjaag maak dat ons die “nou tyd” mis. Ek is so bekommerd dat ek die volgende afspraak sal mis dat ek sukkel om nou hier teenwoordig te wees. Ek hou die horlosie koorsagtig dop ek mag net nie laat wees nie. Amper soos my seun lees ek die minute af. Met die gevolg is dat ek altyd vroeg is, daar is min dinge vir my so sleg soos laat kom. Laat kom sê ek respekteer nie die ander persoon nie. Net mense wat niks doen, kom laat. Mense met te veel tyd. So glo ek nog my hele lewe. Maar my reis die afgelope vyf weke rondom ritmes dwing my na die hier en die nou. Ek wil in die nou leef. Nie in die minuut nie maar in die “nou tyd”. As ek storie lees saam met my kinders wil ek nie dink oor my preek wat nog nie klaar is nie. As ek werk aan my preek wil ek nie bekommerd wees oor my kinders wat alleen legkaart bou nie. As ek saam met my man koffie voor die TV drink wil ek nie beplan aan vanaand se vergadering of die aandete nie. Ek wil die belangrikheid van tyd besef in die oomblik, want die oomblik maak saak, meer as die minute.

Wilma Stockenstöm skryf oor tyd dat dit soos ‘n kat is. Ek is ‘n honde mens en daarom kies katte my altyd uit. Blykbaar weet katte as mens nie van hulle hou nie. Ek hou nie van hulle nie. Wilma se gedig oor tyd wat soos ‘n kat verby skuur het my baie diep laat dink. ‘n Kat glo dat jy aan hom behoort daarom sorg jy vir hom. Jy is sy slaaf… Ons het horlosie slawe geword. Verslaaf aan die tik van die wysertjies, amper soos ‘n tydbom. Maar ek gaan die kat nooi om op my skoot te kom lê. Ek gaan saam die kat in die son sit en na sy gespin luister. Die God wat ek en jy aanbid skenk die Ewige Lewe! Ons het meer tyd as enige iemand anders. Ons het ewige tyd. God laat Hom nie aanjaag nie. God skep dag en nag. En albei is goed. God skep werk en rus. En albei is goed. God skep my en jou. En albei is goed. Mag die tyd lui, lui teen jou been kom skuur en opkrul en in die son gaan lê. En mag jy tot ruste kom in die nou.

Die week se Sabbat:

  • Lydingstyd fokus.
  • Sonsit.
  • Ek wil graag vir iemand goed wees wat dit nodig het.
  • Gebedeboek.

Literatuur:

  • Subversive Sabbath: The Surprising power of Rest in a Nonstop World
    By: Swoboda, A.J.
  • The Rest of God: Restoring Your Soul by Restoring Sabbath.
    By: Mark Buchanan
  • Sabbath as resistance: Saying NO to the CULTURE OF NOW
    By: Walter Brueggeman
  • Rythms of Rest
    By: Shelly Miller
  • The Meal Jesus Gave us.
    By: NT Wright
  • Journeying through Lent with Matthew.
    By: Andrew D Rogness
  • Guerrillas of Grace. Prayers for the Battle
    By: Ted Loder

kalenderkontak