facebook ng

 

Ds Hettie Wessels - 12 Maart 2019

Namate my gebed bewustelik en dieper geword het,
het ek al hoe minder gehad om te sê;
uiteindelik het ek heeltemal stil geraak.
Ek het toe begin luister,
Wat selfs nog verder verwyderd is van praat.
Toe het ek geleer gebed is om te luister,
nie net stilby nie.
Dit is soos dit is,
om te bid beteken nie om na jou eie gepraat te luister nie.
Gebed gaan oor stil word,
en oor stil wees,
en om te wag totdat God gehoor word
Soren Kierkegaard

As ek oor die tien gebooie begin dink kom daar by my allerhande prentjies in my gedagtes op. Sondag. Ds met ‘n toga, wit hemp en swart das. Rye kerkraadslede netjies in die voorste banke. Reëls. Goed wat mens nie mag doen nie. Klein bietjie vrees. My grootword dae in die kerk was alles behalwe sleg. Ons het die wonderlikste Ds du Toit gehad wat ons geleer het van genade en God se liefde. Alhoewel hy ‘n man was wat respek woordeloos afgedwing het, het ek die grootste bewondering vir hom gehad. Hy is een van die groot redes hoekom ek besluit het om self ‘n dominee te word. Maar steeds is die tien gebooie vir my ‘n bang maak storie uit my verre verlede. ‘n Maatstaf waarmee ek gemeet word en dit net nooit maak nie. En daarom kies ek om Jesus se vervulling van die wet te neem en liefde as die grootste gebod aan te hang en sommer so oor ‘n klomp teologiese hekkies te spring sonder om mooi verantwoording te doen.

Maar nou hak ek vas by die vierde gebod. Die rusdag. Ek begin om met nuwe oë na die tien gebooie te kyk. As ‘n genade geskenk soos die vierde gebod daarin opgesluit lê, moet daar mos nog meer wees. God gee die tien gebooie vir ‘n volk wat ontsnap uit Egipte uit slawerny. Slawe mag nie rus nie. Slawe se waarde word gemeet aan hoeveel hulle elke dag produseer. Gaan lees maar weer Eksodus.

Eksodus 5
6 Dieselfde dag nog het die Farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: 7“Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, 8en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer.’ 9Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.”

God kom sê vir hierdie volk wat geen selfwaarde meer oor het nie. Ek is anders as alle ander gode. Ek laat mense rus. Ek die God van Israel rus self. Ek is ‘n God van genade en liefde ek gee om wat van julle word. Ek het julle so lief dat ek vir julle ‘n opdrag gee om te rus. Sodat julle sal besef julle waarde hang nie af van hoeveel julle produseer nie maar dat ek vir julle lief is maak nie saak wat nie.

“The Sabbath rest of God is the acknowledgment that God and God’s people in the world are not commodities to be dispatched for endless production and so dispatched, as we used to say, as “hands”in the service of a comand economy.”
Walter Brugguemann

Die tien gebooie kom vertel vir ons wie God is, wie ONS God is. Ons moet hom nie verwar met ander angstige, bose gode nie. Dit is die eerste drie gebooie. Die vierde gebod bind die eerste drie met die laaste ses. En as mens mooi na die laaste ses gaan kyk dan kom dit daarop neer dat mense waardevol is. Ook jy. En jy kan nie maar met hulle maak wat jy wil nie. Kort en kragtig: verhoudings. Goeie verhoudings. Verhouding met God en verhouding met my naaste. Jesus sê daardie verhoudings gebeur in liefde. Die tien gebooie is nie reëls nie. Dit is tien genade geskenke wat sê ek en jy het waarde. So waardevol dat God ons liefhet en met ons in ‘n verhouding wil staan, dat Hy omgee. So baie omgee dat Hy wil hê dat ons gesonde mense sal wees wat in gesonde verhoudings met ons bure, ons werk en onsself sal staan.

Sien, en hier kom die moeilike vrae:
Wat is jou verhouding met jouself?
Gee jy genoeg vir jouself om dat jy glo jy is nie ‘n slaaf en dat jou waarde nie afhang van hoeveel jy produseer nie?
Wat is jou verhouding met jou werk? Het jou werk dalk jou wrede, angstige god geword?
Wat is jou verhouding met die mense om jou?
Mag hulle rus?
Het jy genoeg respek vir hulle om uitgerus en kreatief op te daag en teenwoordig te wees?
Wat is jou verhouding met God? Neem jy sy geskenk van rus ernstig op?


Ek het met hierdie vrae geworstel tydens my Maandag Sabbatstyd. My gebedsboek kom goed aan en ek is opgewonde oor wat dit mag inhou.

Vir volgende week:

  1. Vir my persoonlike spiritualiteit gaan ek op Lydingstyd fokus. Ek sal die Lydingstyd-tekste in die Bybel lees en ‘n boek of twee. Ek sal volgende week die boeke se name deurgee. Steeds my gebedeboek.
  2. Dit is vakansie vir my kinders so ons sal weer ‘n lekker saamtyd inwerk.
  3. Ek wil graag sommer net goeie klasieke musiek luister vir so uur.

Literatuur:

  • Subversive Sabbath: The Surprising power of Rest in a Nonstop World
    By: Swoboda, A.J.
  • The Rest of God: Restoring Your Soul by Restoring Sabbath.
    By: Mark Buchanan
  • Sabbath as resistance: Saying NO to the CULTURE OF NOW
    By: Walter Brueggeman

kalenderkontak